GETUIENIS: VRYHEID IN DIE TRONK

My seun, Christoff, het aan die einde van 2018 by die Gideons aangesluit. Net voor Kersfees het dokter Chris Thirion vir Christoff saamgeneem na ʼn gevangenisplasing. Terwyl Christoff die oggend gebid het vir die plasing, het die Here vir hom duidelik ʼn beeld van ʼn gevangene met ʼn groot litteken onder sy linkeroog gewys. Die Gideons kon vir sewe jaar geen Testamente by die Harrismith gevangenis plaas nie. Sedert 2019 is daar met baie moeite Testamente geplaas, maar nooit meer as 50 per besoek nie.  Christoff en Chris het van seksie tot seksie beweeg, maar kon geen gevangene met ʼn litteken onder die oog kry nie. By die laaste seksie het die man met die litteken skielik voor hulle gestaan. “I don’t want a Bible from you!”, was die woorde van die geharde misdadiger. Christoff het na hom gedraai en geantwoord: “But I have a message from the Lord for you – will you please forgive your mother?” Die geharde gevangene het op sy knieë neergeval en Christoff om die bene gegryp en begin huil. Hy kon sy ma vergewe. Skielik het die ander gevangenes gestorm vir Bybels. Nodeloos om te sê is daardie oggend in Desember, kort voor Kersfees, 476 Testamente geplaas. Wat ʼn wonderlike Kersgeskenk, vir hulle wat moedeloos, sonder hoop of visie in hierdie gevangenis sit. Sedertdien besoek Chris en Christoff elke tweede Saterdag die gevangenis en bring ʼn boodskap van hoop en bemoediging. Soos Psalm 107: 10 & 13 dit stel: “Party het in die donker gesit, in diep duisternis, hulle was gevangenes, in ellende en in boeie.. Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende.”