GETUIENIS: OM ‘N GROOT VIS TE VANG IN MAURITIUS

Markus 1:17 “Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Tydens ons wittebrood was ek en Michelle op ʼn dagtoer en kom by ʼn tempel aan waar die hoogste Hindu afgod buite Indië se beeld gehou word. Ons besluit om nie in te gaan nie maar om eerder buite in die bussie te wag. Terwyl ons iets drink, sien ek die busdrywer eenkant staan. Ek gaan toe na hom toe en sê: “Vra jy nie hoekom ons nie in die tempel ingaan nie? Die rede is omdat ons in Jesus Christus glo, wie alles wat ons nodig het om gered te word reeds aan die kruis vir ons gedoen het.” Op daardie oomblik sluit nog ʼn drywer by ons aan, maar ek gaan voort: “Die groot vraag is: waar gaan jy heen as jy doodgaan?” Hy antwoord toe dat niemand dit kan weet nie. Ek sê dat ons Christene weet, omdat die Bybel sê dat Jesus vir ons plek gereed gemaak het en wanneer ons doodgaan, sal ons saam met Hom in die hemel wees. Dit is wat ek glo en het sekerheid daarvan.

Hulle sê dat hulle wel Bybels het, maar dis net die Ou Testament. Ek bied toe aan om vir hulle Engelse Nuwe Testamente te gee, waartoe hulle ingestem het. Ek gaan haal toe twee Engelse en twee Franse PWT’e (of Persoonlikewerkerstestamente) by Michelle in die bussie. Toe ek by die drywers kom, het ʼn derde persoon by hulle aangesluit. Ek gee toe die twee Franse PWT’e aan die eerste twee en ʼn Engelse PWT aan die nuweling. Ek maak nog ʼn grappie deur vir hom te sê dat hy die Engelse een kry, omdat hy meer Engels lyk. Die manne lag en een sê: “Hy lyk meer Engels, want hy kom van Engeland af!” Ek kon egter geen verskil tussen die drie se gelaatstrekke sien nie.

Die Engelse persoon vra toe waaraan ek glo en ek antwoord dat ek in Jesus Christus glo. Hy skud toe my hand en sê dat hy ook ʼn Christen is. Ons drywer vra toe of hy eerder ʼn Engelse Bybel kan kry. Die Engelse drywer gee toe sy Bybel vir hom, waarop hy ons bedank en sê hy dit met sy seun gaan deel. Toe die tweede drywer vertrek, vertel ons drywer dat hy elke oggend en aand bid. Ek vra toe wie die God is tot wie hy bid? Hy antwoord: “Ewige God.” Ek sê toe: “Sy Naam is Jesus Christus. Leer meer van Hom in dié Bybel.” Hy sê toe dat dit goed is om die Bybel te mag hê, want hy vloek so baie. Ek sê toe dat Jesus hom aanvaar net soos hy is en lees Matteus 11:28 vir hom: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Daarna vra ek vir hom of hy Jesus wil aanvaar, waarop hy instem. Net daar vorm ons ʼn groepie van drie manne wat hande vashou terwyl ek bid en die ongelowige lei in die sondaarsgebed.

Die vreugde wat ek beleef het op die voorstoep van ʼn Hindu tempel was ʼn belewenis waarvoor ek die Here prys. Aan Hom al die eer!