GETUIENIS: VAN GEVANGENE TOT PREDIKANT

Op Donderdag 17 Januarie 2019 het ek teruggekeer na my kantoor na ‘n suksesvolle Bybelplasing in die Johannesburg Sentraal-gevangenis. ‘n Man met ‘n Bybel het by my kantoordeur kom staan. Ek het hom in genooi en gevra of ek moontlik kan help. Hy het homself voorgestel as Pastoor Matthew. Hy het my vertel dat hy van deur tot deur gaan om geld in te samel om sy kerktent, wat deur ‘n storm beskadig is, te herstel. Ek het vir hom gesê dat ek ongelukkig nie geld vir hom het nie, maar ons het voortgegaan om oor die dinge van die Here te praat en toe ook die Gideons bespreek.

“O, die Gideons het my lewe gered,” het pastoor Matthew gesê. “Ek het in die Sentraal-gevangenis in Johannesburg op my bed gelê en beplan hoe ek myself sou doodmaak. Dit was op 26 November 1997. Ek kan die dag onthou omdat dit my ma se verjaardag was. Iemand van die Gideons het die sel binne gekom en my ‘n Bybel gegee, hy het met my gepraat, maar ek het nie geluister na wat hy gesê het nie. Later die dag het ek besluit om die Bybel te lees, en van daardie oomblik af het ek die voorneme verloor om myself dood te maak.

Die Gideons het ‘n paar dae later, op 5 Desember, weer na die gevangenis gekom. Hierdie keer wou ek hoor wat hulle sê en ek het my lewe op daardie dag aan Jesus gegee. Ek het elke dag my Bybel gelees, en God het met my begin praat. Hy het vir my gesê ek gaan ‘n pastoor word. Hy het my selfs die naam van die kerk gegee. God het my aangesê om met sommige van die langtermyn geharde gevangenes te gaan praat. Hulle het my meestal weggejaag en gedreig om my met ʼn mes te steek, daarom het ek die Here gevra om vir my leiding te gee. Sy antwoord: “Vas en bid”. Soms het ek vir daardie manne 30 dae lank gevas en ek het gesien hoe hulle harte sag word en meer gewillig was om na die Evangelie te luister.”

Matthew is na die Pretoria-gevangenis oorgeplaas waar hy sy studies voltooi het, asook drie ander sertifikate van verskillende Bybelskole verwerf het. Hy het die eerste persoon geword wat ‘n gevangene by daardie korrektiewe fasiliteit was, asook een van die amptelike pastore. Hy is in 2003 vrygelaat en het die Emmanuel Kerk in Randfontein gestig. Hy het tydens ‘n gevangenisbesoek aan die ‘Sun City’ tronk by ons aangesluit waar hy jare gelede die Here gevind het. Weens onvoorsiene omstandighede het ons ongelukkig nie die gevangenes daardie dag gesien nie. Hy het egter belowe dat hy weer na die gevangenis sal terugkeer om die gevangenes te besoek.

‘n Boodskap aan al my medegelowiges: ons sal miskien nooit die vrug van die saad wat ons saai sien nie, maar ons moet gehoorsaam wees en die Woord plaas, omdat God se Woord nooit leeg sal terugkeer nie (Jesaja 55:11).