Ek en Diana het op 25 Maart 2021 gou dorp toe gegaan om 'n paar noodsaaklikhede te koop. Ons stap toe verby 'n King Pie stalletjie, wat in die middel van Randburg Mall staan. Skielik het ek lus geword vir ʼn lekker ongesonde pastei, en het vir ons elkeen een saam met ʼn koeldrank gekoop. Daar was net een tafel en 'n paar stoele om te sit, en dit amper in die loopgang. Ek het voorgestel dat ons net daar moet sit, en dis wat ons gedoen het. 'n Jong man, van sowat 23 jaar oud, het ook daar gesit en dit het gelyk of hy baie moeg was en wou slaap. Ek het grappenderwys voorgestel dat hy die masker oor sy oë moet trek as hy wou slaap. Hy het gesê hy is te bang vir die Covid-19 virus en was nie reg om nou dood te gaan nie. Ek het hom gevra waarom, en hy het geantwoord dat hy baie onseker is oor die lewe na die dood. Ek het aan hom verduidelik dat ons hoop eintlik lê in die feit dat ons seker is oor wat met ons na die dood sal gebeur. Ongelukkig, nadat ek hom twee keer gevra het, kon ek nie sy naam van agter die masker kry nie, maar dit het soos Sitwe geklink.

Ek het dadelik sy aandag gehad en ons kon oor die Evangelie praat. Ons bespreking was oor die breë en die smal weg. Ons is almal sondaars en het 'n Verlosser nodig. Hy het ingestem dat daar nie goed in enigeen van ons is nie, en toe verduidelik ek die Paasverhaal oor die Paaslam en hoe ons verlossing kan kry.

Intussen het Diana weggeglip en 'n Bybel en 'n traktaatjie in ons motor gekry en dit vir ons gebring. Rondom ons was ook diegene wat gespot, geskerts en gelag het, maar hy het sy volle aandag gegee toe ek die weg van verlossing verduidelik het, en vir hom 'n Bybel en die traktaatjie gegee het. Sy foon het gelui en hy moes gaan. Ek het hom ook genooi om die kerk, wat net in die pad af is, by te woon. Ons het belowe om op die uitkyk te wees vir hom. Ons dank God weereens vir nog 'n geleentheid om die Paasverhaal in hierdie tyd van die jaar te deel. Ek is baie verbaas hoe min mense eintlik die waarheid rondom Paasfees ken. Weereens besef ons die waarheid van Eksodus 4:12: “Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.”

Peet van der Merwe

fout: Inhoud is beskerm !!