Uit die vullis gehaal

Eers moet ek deel hoe ek by haar uitgekom het: Sy was so klompie weke terug op die program "Dankie Lottoland" waar ek absoluut toevallig gesien het hoe sy haar Gideonsbybel lees en waardeer. Ek het haar op Facebook opgespoor en gevra oor die getuienis agter die Bybeltjie. Ek deel dit graag met julle vir verdere gebruik (haar naam is Erusha Armoed):

Elke jaar het daar altyd mense vanaf die kerk op Villiersdorp gekom om Bybeltjies by my ou skool, Villiersdorp Sekondêr, uit te deel aan leerders.

Ek is nie seker of ons Graad daardie jaar ook Bybeltjies ontvang het of nie, maar waarvan ek seker is, is dat ek nie 'n Bybel gehad het van my eie nie. Ja, ek het 'n Bybel ontvang toe ek Graad 8 of 9 was, maar in daardie tyd was ek nog te naïef om te weet watter waarde daardie kleine ou boekie bevat.

Dit was in my Graad 11 jaar, die jaar wat ek my Ouma aan die dood afgestaan het en ook die jaar waar ek begin het om al my speelgoed uit die kot te gooi, omdat ek waardeloos en soos 'n mislukking gevoel het . . . toe ek die Bybeltjie kry.

Ek onthou dit was na pouse en die klas was deurmekaar. Ek het agter in die klas by 'n vriend van my gaan sit. Die persone wat die Bybels uitdeel, was 'n paar dae vantevore by die skool. My pen het toe in die gewone verloop van rasende kinders op die klaskamervloer geval. Ek het gebuk om dit op te tel en net so het ek dit as 'n geleentheid gesien om dalk 'n pen onder die bank te soek want baie leerders verloor hul penne sò. Onder die bank was baie chips en lekkergoed papiere maar geen pen nie. Wat ek wel tussen daardie vullis gekry het, was 'n rooi Bybeltjie.

Ek was glad nie tevrede oor die Bybeltjie nie en wou 'n pen hê. Ek wou die Bybel weer terug onder die bank sit, maar my vriend het dit gegryp. Ek weet nie hoekom nie, maar ek het dit toe terug gegryp en dit in my skoolbaadjie se sak gesit. Toe het ek gaan sit op my plek want die klas het begin stil raak.

Op die naweek toe ek my skoolklere moes was, kom ek op die Bybeltjie af in my skoolbaadjie se sak en haal dit uit. Die Bybel het vir die naweek 'n plek in my skoolsak gehad.

Ek moes later die aand begin leer en het toe die Bybel weer uitgehaal want ek moes my boeke uitkry.

Net daar onthou ek hoe lief Ouma was om Bybel te lees terwyl haar kleinkinders slaap, hoe sy 'n biddende ouerfiguur vir haar kleinkinders was en hoe sy altyd vir ons sou vertel van die Bybel. En nee, sy was nooit Sondae in die kerk nie en so ook nie haar kleinkinders nie. Sy het wel Sondae oggende vroeg die kerkdiens kliphard op RSG geluister en dit nooit gemis nie.

Ek wou hierdie Bybel met alles in my vermy, want as jongeling probeer ons dikwels die Bybelse waarhede vermy. Soms is ons nie gereed om eers van die Here te praat of oor Hom te dink nie. Maar daardie aand slaan ek hierdie kleine Bybeltjie oop en sien dat daar geen naam aan die voorkant ingeskryf was nie. Ek voel toe dat hierdie Bybeltjie daar onder daardie bank geplaas was om my te vind en nie ek vir hom nie. Ek lees 'n vers en tot my verstomming lees ek dit oor en oor sonder om te verstaan wat ek lees. Ek probeer toe leer, maar slaan later weer die Bybel by dieselfde vers oop. En toe maak dit sin wat ek lees.

Die volgende oggend slaan ek weer die Bybeltjie voor skool oop en lees 'n vers vir die dag. Toe begin ek huil. Die Bybeltjie word weer in die binne-sak van die skoolbaadjie gesit en ek vertrek skool toe. So het dit 'n roetine geraak. Elke keer kon ek my Bybeltjie oopslaan. Ek kon bid en vir God dankie sê dat Hy daar is, dat Hy my optel en dat struikelblokke daar geplaas word om jou geloof te toets. Want Hy sal my mos nooit verlaat nie, so het Hy beloof.

Oom Johan, ek het daardie Bybeltjie uit die vullis gehaal en Sy inhoud het my ook uit die vullis gehaal.”

Johan Boshoff

Mossel Bay Branch

Scroll to Top

Ons hoofdoel is om ander na Christus te lei deur persoonlike getuienis, getuienisse en die strategiese plasing van die Woord van God. Jou finansiële bydrae sal ons help om Testamente te druk en te versprei.

Our Banking Details

Eerste Nasionale Bank (FNB), Pretoria

Takkode: 25 14 45 (EFT)

Tjekrekening: 510 608 41 497

Debietvorm