Vandag was ons laer se Maandsamekoms waar ons lekker kon braai en Gideonswerk beplan met ons mede-Gideons en Gideonsvroue.
My man, Vincent, en ek het een van ons laerlede gaan oplaai, want dit was reënerig en sy wou nie self ry nie. Terwyl ons daar langs die pad gestaan en wag het voor haar huis, ry ’n sekuriteitsvoertuig by ons verby. Ons sien die sekuriteitspersoon talm en probeer in ons kar inkyk. Hy stop en parkeer toe agter ons.
“O gaats, hy dink seker ons wil kwaad doen,” fluister ek vir Vincent. Hy kom loer by ons venster in en sê opgewonde: “I know this car ."
Toe Vincent uitklim, sien ons dis die man wat as eerste respondent opgedaag het toe Vincent sy hartaanval gehad het. Terwyl ons daar staan en gesels, bel hy sy kollega sonder om hom in te lig hoekom hy moet kom. Kort daarna daag die kollega op en vra waarmee hy kan help. Ek vra hom toe of hy ons motor herken. Die kollega het eers verstom sy kop geskud en toe begin huil. Al huilende het hy omgestap na Vincent en hom omhels. Die foto wat ek daar geneem het, was toe hy darem al bietjie gekalmeer het. Die foto wys egter duidelik die emosie op hierdie swart man se gesig. Hy kon nie ophou huil nie. Hulle het Vincent dood gesien langs die pad.
Tydens die voorval op 12 November 2022 het hulle toevallig agter Vincent se motor aangery omdat hulle gedink het dat hy dronk was, maar in werklikheid het sy hart gaan staan. Sy motor het geswenk van een kant van die pad oor na die ander kant. Sy voertuig het teen ’n boom tot stilstand gekom sonder om ’n ander voertuig te tref. Hulle kon nie vir Vincent uit die voertuig kry nie, en die sekuriteitsman het met sy rewolwer begin om die venster stukkend te kap. Uiteindelik kon hulle vir Vincent uithelp. Intussen het die nood-mediesewerkers ook opgedaag. Hierdie twee sekuriteitswagte was die eerste respondente op die toneel.
Ons het lank met hulle gesels terwyl die emosies van dankbaarheid sterk vloei. Hulle kon nie glo dat Vincent lewe nie, want hulle het gesien hoe hy sterf terwyl die paramedici hom probeer help.
Verlede week het ons ʼn Bybelplasing in Westville hospitaal by die X-strale departement gedoen. Daar het ons met Bongi gesels wat ook betrokke was op die dag toe Vincent sy voorval gehad het. Sy was net so emosioneel om Vincent te sien en het opgespring en hom kom omhels. Sy het vir ons vertel van die wonderwerk dat hy lewe, want sy hart het ook gaan staan terwyl hy in die hospitaal was.
“You were dead. It’s a miracle! I can’t believe you are alive without any brain damage. And now, you are fine,” het sy vir ons vertel met trane in haar oë.
Dit het ons nie geweet nie. Ons weet wel dat sy hart gaan staan het terwyl die paramedici hom gehelp het en daarna weer oppad hospitaal toe, maar dat sy hart later in die hospitaal gaan staan het, was vir ons nuus. Sy hart het dus drie keer gaan staan.
Ek het geweet dat ons Bongi sou ontmoet in die hospitaal tydens ons Bybelplasing.
God werk op wonderlike maniere, want hier staan ons langs die pad en ontmoet die mense wat eerste vir Vincent gehelp het. Deur Vincent se hartaanvalle het die Here die situasie omgedraai en baie mense se geloof in Hom herstel. En hierdie mense kon eerstehands God se genade ervaar en getuig van hoe onse Here wonderbaarlik vir Vincent gered het.
Elsa Hamman
Pinetowntak