Ek stap gereeld op die strand langs die see wanneer die weer gunstig is. Al vir 'n hele ruk is daar 'n paar ouens wat sandkuns op die strand skep. Die munisipaliteit help hulle deur vir hulle 'n hoop sand op te stapel.
Een Dinsdag het ek weer op die strand gaan stap en twee sandstasies , waar kuns deur drie mans geskep word, opgemerk. Na my stappie het ek drie PWT'e uit my motor gaan haal en by die manne gaan sit vir 'n geselsie. Twee van hulle was werksaam by die een stasie en die ander een was besig by die tweede stasie.
Ek gesels toe met Keith, 'n bruin man met “dreadlocks” en sy vriend, Happy, 'n Xhosa-man met 'n blou T-hemp. Keith het my sy storie vertel dat hy gerehabiliteer is nadat hy jare lank op dwelms was. Hulle kuns word geïnspireer deur die Heilige Gees en het altyd 'n tema. Hierdie spesifieke stasie was geskep sedert Paasfees met Jesus aan die Kruis, as sentrale tema. Op daardie stadium het hulle veranderinge aan hul oorspronklike werk aangebring. Hulle gebruik sand, seewater en 'n paar basiese gereedskap.
Ek het daar en dan besluit om vir elkeen 'n PWT te gee. Ek het hulle ook vertel van Die Gideons en waarvoor ons staan. John, die derde man by die tweede stasie, het ook 'n PWT ontvang. Ek is geïnspireer deur hul storie en hoe hulle hul geloof projekteer in hierdie pragtige kuns, waarvan ek 'n foto aangeheg het. Honderde mense kan hul vaardighede bewonder wanneer hulle verbystap of gaan duik.
Hulle het min of geen geld nie, maar spandeer hul tyd om 'n pragtige storie te skep vir almal om te geniet. Alle eer aan God. Keith het my geskenk van die PWT’e aan hulle gesien as 'n "ewige geskenk" en beskou dit meer waardevol as geld.
Dave Viljoen – Helderberglaer